Dagstukkie

Dagstukkie

Dagstukkie

OORDENKING

28 April

Vandag is Sondag!

Psalm 15 & Hebreërs 10:19-25

Wie het die reg om in die woonplek van God in te gaan? Dit is die vraag van die Psalmdigter. Natuurlik het hierdie vraag met veel meer te doen as ’n kerkgebou en die samekomste van die gemeente. Dit het ten diepste te doen met die mens se onvermoë om in die teenwoordigheid van die Allerheiligste te leef.

Gaan kyk maar na die eise wat die Psalmdigter aan die persoon stel wat voor God wil verskyn. Hy moet onberispelik wandel en doen wat reg is, geen kwaad praat of iemand beledig nie. Voldoen u dalk aan hierdie riglyne? Nee! Die woorde van Paulus weergalm in ons ore: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie ... . Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.”

Maar die brief aan die Hebreërs leer dat ons deur die bloed van Jesus Christus vrye toegang tot die heiligdom van God ontvang het. Hy het hierdie voorreg met Sy bloed gekoop sodat ons met geloofsekerheid en opregte harte in God se teenwoordigheid kan verskyn.

Die erediens is ’n uitbeelding van hierdie voorreg! Ons kom op Sondae in die huis van die Here bymekaar. Ons is gelowiges in Sy teenwoordigheid! Ons mag Hom loof en prys en in rustigheid na Sy stem luister as Hy ons deur Sy Woord onderrig, vertroos en vermaan tydens ’n erediens.

Daarom roep God se Woord ons op om nie van die samekomste van die gemeente af weg te bly nie. Het u hierdie opdrag vandag gehoorsaam?

Ds. Frans Marais, Grootvlei / Roedtan

Lewensbrood - (CC BY-NC-ND)