Dagstukkie

Dagstukkie

Dagstukkie

OORDENKING

27 April

Is dit werklik vryheid?

Johannes 8:31-37

In Suid-Afrika staan 27 April bekend as Vryheidsdag. Hierdie dag het natuurlik sy oorsprong in 1994 na die eerste demokratiese verkiesing. Deur die stemreg van die mens, het die mens sy soeke na vryheid ontdek.

Wat dink u, is Suid-Afrika vry? Is die inwoners van die land vry? Sonder om gal te braak, dink ek die gemiddelde mens sal na 30 jaar van sogenaamde vryheid nie anders kan as om te erken dat vryheid nie op ’n politieke, ekonomiese, staatkundige of persoonlike vlak te vinde is nie. Om die waarheid te sê, die mens word maar net weer die slaaf van die dinge waarop hy sy vryheid bou.

Ook die Jode het hierdie dure les geleer. Hulle het hul vryheid gesoek in die wet, asook in die herstel van die “wêreldse” koninkryk van Dawid, maar luister bietjie wat sê Jesus: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” En vers 36: “Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.”

Soek Suid-Afrika sy vryheid by God? Vind jy jou vryheid in ons Verlosser, Jesus Christus?

Die tragedie van ons tyd is dat selfs Christene hul hoop en vryheid op wêreldse lugkastele bou. Mag ons elkeen ons tot God bekeer. Dan sal ons die vryheid leer ken wat staande bly; ongeag ekonomiese, politiese of staatkundige veranderinge.

Ds. Frans Marais, Grootvlei / Roedtan

Lewensbrood - (CC BY-NC-ND)