Selfverstaan

 

Die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG) se selfverstaan is nie ‘n afgehandelde saak nie, want die Bond is steeds besig om sy plek te vind op die grondslag van die Bybels Reformatoriese teologie van die ou NHKA.

Ons unieke geskiedenis toon dat ons teologiese verstaan Bybels Reformatories gebly het. Dit is met die uitbeweeg onder die dwingelandy van die NHKA se onskriftuurlike besluite dat ons selfverstaan ten opsigte van gemeentes en sinodale bande noodgedwonge verander het. Daar is geen dwingelandy in die GHG nie; ons ag mekaar gebonde aan die Bybel, die Belydenisse en die Formuliere van Eenheid. Na die stigting van die GHG is die volgende gestel tydens die Tuine (eerste) Bondsvergadering:

"In ons huidige bestaan as onafhanklike gemeentes heers die teologiese siening dat elke gemeente ecclesia completa is. In kort verstaan ons daaronder dat Christus die Hoof van die Kerk is en dat die ampsdraers in vergaderings byeenkom waardeur die gemeente regeer en gelei word. In ons geval is die gemeentelike vergadering naamlik Ouderling-, Diaken- en Kerkraadsvergaderings die primêre. ... So gesien, is die belangrikste vergaderings in die kerk die vergaderings van die ampte in die gemeente, want hulle staan die gelowiges by wat die getuies van Christus in die wêreld is. ... Verdere bykomende vergaderings moet daargestel word om die gemeentelike vergaderings van ampsdraers by te staan en te ondersteun. Hulle taak is, in die algemeen gestel, om aan sake aandag te gee wat ʼn Ouderlingvergadering nie alleen kan afhandel nie. ... Jesus Christus is Hoof en Heer van die Kerk en alles behoort aan Hom. ... Die selfstandige gemeentes se onafhanklikheid moet respekteer word. Elke gemeente is volledig kerk en het die reg om sonder inmenging van buite kerk te wees.”

Tog is die gees van noue meelewendheid deel van ons selfverstaan. Daarom sien ons die GHG se gemeentes elkeen as onafhanklik, maar tog ook almal verbonde aan mekaar in die lig van die begrip ecclesia incompleta.

Die unieke uitdagings van die land se wetgewing het 'n administratiewe besluit genoodsaak. Tydens die GHG Tuine vergadering is die volgende besluit geneem:

"DIE OPRIGTING VAN `N REGSPERSOON: Dit is noodsaaklik dat ons ʼn eie rekening vestig, maar ook voorsiening maak vir die bekomming van eiendom en ontvangs van moontlike erflatings. ... Die vergadering besluit om ʼn regspersoon te vestig in naam van die GHG. ... Die Bondsvergadering benoem ‘n finansiële komitee om besluite aangaande finansies te bestuur. (Hier)die komitee ontvang en bestuur alle erflatings, skenkings e.d.m. Die komitee kry opdrag om ‘n bankrekening te vestig in die naam van Geloofsbond van Hervormde Gemeentes. Alle wettige vereistes moet nagekom word."

Laasgenoemde het beteken dat die GHG ook as vereniging geregistreer het om 'n NWO- en OWO nommer te bekom. Die GHG en die vereniging is een en dieselfde entiteit, die verwysing na vereniging is daar om gehoorsaam te wees aan die wetgewing van die dag.

1. ‘n Grondwet vir bogenoemde Vereniging is aanvaar op 9 September 2013 deur die gevolmagtigdes van afsonderlike Hervormde gemeentes. Die Vereniging word in kort na verwys as die GHG.

2. Die vereniging het aansoek gedoen vir vrystelling as ‘n nie-winsgewende organisasie in terme van die Inkomstebelastingwet asook Wet 71 van 1997. Die “Bondsvergadering” wat elke jaar gehou word, is ‘n algemene jaarvergadering van hierdie Vereniging (die GHG) en word, in terme van hierdie Vereniging se Grondwet gehou. Die doel daarvan is om onderlinge samewerking tussen gemeentes wat lede daarvan is, te bewerkstellig en samewerking te reël. Die verdere doelstellings is in die Grondwet uiteengesit.

3. Dit is ‘n godsdienstige organisasie wat met ander organisasies insluitende kerk, teologiese en soortgelyke organisasies, saamwerk en gesprekke voer. Die doel is ook om gemeentes van enige ander kerkorganisasies binne Suid-Afrika te aanvaar as lede, en toe te sien tot die stigting van nuwe gemeentes en/of teologiese verenigings.

4. Lede van die Vereniging is gemeentes. Gemeentes waarvan die eiendom in die name van afsonderlike verenigings geregistreer is, se verenigings is nie lede van die GHG nie.

5. Gedurende vorige vergaderings van die GHG is die moontlikhede van die daarstelling van ‘n afsonderlike kerkorde bespreek en ondersoek, sodat daar bo en behalwe die vergaderings van die Vereniging ook teologiese vergaderings gehou kan word. Sulke teologiese vergaderings kan natuurlik net plaasvind, soos die Algemene Kerkvergadering van die NHKA, indien daar ‘n kerk gestig word met ‘n afsonderlike kerkorde. Dit is nog nie gedoen nie.

6. Die GHG is nie ‘n kerk nie, dit het nie ‘n kerkorde nie en is nie gestig as ‘n kerk nie. Elke gemeente wat lid is daarvan, is afsonderlik ‘n kerk, en daar is geen nuwe kerk gestig waarvan die afsonderlike lede gemeentelede is nie.

Die GHG is gestruktureer as 'n vereniging wat oor teologiese en administratiewe sake praat en besluite neem wat lid-gemeentes raak. Daar is geen aparte sinodale organisasie, vereniging of struktuur of vergadering nie. Die vereniging se konstitusie se formulering verwoord die eie aard van die GHG. Die Bondsvergadering is tegelykertyd die vergadering van die vereniging. Daar is nie ‘n ander Bondsvergadering of kerkstruktuur of sinodale struktuur nie.

Die GHG handhaaf die volgende kernwaarhede: (Met konsensus goedgekeur tydens die 2015 Meyerspark Bondsvergadering.)

1. Die Bybel is die Woord van God.

Met ander woorde:

Ons glo God openbaar Homself in en deur die Bybel. Hierdie openbaring alleen is voldoende vir ons saligheid. (Sien NGB)

Die Bybel is deur God geïnspireer en dra daarom ʼn gesag wat bo menslike wysigings staan.

Ons gebruik die 1933/ 1953/ 1983/ 2016 asook die ABA (Afrikaanse Bybel vir Almal) vertalings as publieke teks vir eredienste, Bybelstudie en huisgodsdiens. Enige vertaling bly deels interpretasie. Ons beoefen ons teologie / geloofsnadenke alleenlik vanuit die grondteks.

2. Ons staan by die drie Geloofsbelydenisse en bely soos en met die kerk van alle eeue, met dieselfde betekenisinhoud, met besondere klem op:

Die werklike maagdelike verwekking.

Die fisies-liggaamlike opstanding van Jesus as deel van Christus se totale identifisering met ons in ons menslike toestand, Sy Hemelvaart en die verwagting van Sy wederkoms in die toekomstige eeu.

Kerklike eenheid as ‘n saak gevind in belydenis en nie in struktuur nie.

3. Die drie belydenisskrifte te wete NGB, Heidelbergse Kategismus en Dordt vorm ons belydenis grondslag, en ons lê klem op:

Sonde van die mens.

Soenoffer van Christus aan die kruis.

Geloofsgehoorsaamheid as vanselfsprekende plig van die mens om dankbaar te lewe - gehoorsaamheid aan God se wil, soos ook vervat in die Wet.

Net een geloof wat red – Geloof in Christus. Enige horisontale moralisme word verwerp.

4. Staat van Belydenis as ʼn aanspreek van moderne dwalinge:

Daar is sewe sake wat aangespreek word omdat hierdie sake prominent na vore tree in die teologiese dokumente van ons tyd:

a. Die mens is geskape na die beeld van God, maar is nie ʼn klein godjie nie. (God se beeld is nie in die mens nie.)

b. Ons staan by die Evangelie van vergifnis (vertikaal) en nie deernis (horisontaal) nie. Die horisontalisme van vandag is ʼn uitsiglose moeras wat die mens in hierdie jammerdal oorrompel. (Dit beteken nie dat ons nie liefde vir die mede-mens het nie, ons stel dit net as voortvloeiing uit ons antwoord op die liefde van God.)

c. Evangelieverkondiging is die kern waaroor dit moet gaan in die kerk en nie “sosiale geregtigheid” wat nagejaag moet word nie.

d. Die huwelik is deur God ingestel en daarom koester ons die lewensverbintenis tussen een man en een vrou in die huwelik.

e. Ons binding aan die Belydenisskrifte word gekenmerk deur die quia-beginsel (omdat Belydenisskrifte met die Bybel ooreenstem) en nie "quatenus" nie (in soverre Belydenisskrifte met die Bybel ooreenstem).

f. Net die Bybel en nie ander bronne nie – ons is oortuig dat die Bybel en geen ander apokriewe geskrif nie, die volheid van inligting vir ons saligheid verskaf – Sola Scriptura.

g. Die waarheid; al is dit tot eie skade – Om die waarheid te praat, is van uiterste belang in enige tydsgewrig.

 

5. Ons verstaan van die erediens en sakramente bind ons ook saam as Geloofsbond.